AHI News

News, information and much more 

AHI 75 - Kom Ons Vier Met Ekonomiese Groei.

AHI 75 - Kom Ons Vier Met Ekonomiese Groei.

AHI 75.

Kom Ons Vier Met Ekonomiese Groei.

"Die AHI kom al 'n ver pad die afgelope 75 jaar, van sy stigting in 1942 as die stem van die Afrikaanse sakesektor, tot vandag waar dit alle Suid-Afrikaners verteenwoordig wat sy visie van 'n welvarende, florerende klein- en mediumsakegemeenskap wil deel." So sê die President van die AHI, Bernard Swanepoel in Johannesburg.

"Die organisasie het vir baie jare puik werk gedoen, weliswaar vir een bepaalde groep vir die eerste 50 jaar van sy bestaan. Maar vandat die groot transformasie in die vroeë jare 90 begin het, het die AHI self ook groot veranderinge ondergaan en moes hy homself herdefinieer of irrelevant word."

Sedert die 1990's het die AHI hom herposisioneer en uitgereik oor al die grense heen wat vir so veel jare die land en sy gemeenskappe verdeel het. Dit is nou in die finale stadium van ontwikkelling van 'n dinamiese nuwe leierskap en is besig om hom te hervestig as die voorste stem vir klein- en mediumondernemings. Met meer as 100 sakekamers onder sy vlerke, is die AHI goed geposisioneer om steeds 'n groot bydrae te maak.

DieAHI se Uitvoerende Hoof, Dr. Ernest Messina, sê die AHI is vandag oop vir almal. "Ons kan die feit dat die AHI vir baie jare 'n groot deel van die gemeenskap afgeskeep of veronagsaam het, nie onder die mat vee nie. Die organisasie het nou egter uitgereik en het die afgelope 20 jaar al 'n belangrike bydrae gemaak tot die ontwikkelling van nuwe kleinsakeondernemings dwarsoor die land. Dit is belangrik, want ons het internasionaal al gesien dat die klein- en mediumondernemings of KMO's jou grootste werkskeppers is. Ons moet eenvoudig dié sektor op elke moontlike manier aandryf.

Bernard Swanepoel sê die AHI stem saam met President Zuma dat die land 'n dwingende behoefte het aan radikale ekonomiese transformasie. Die organisasie verskil egter skerp van die President oor hoe dit bereik moet word.

""Radikale Ekonomiese Transformasie, met hoofletters. Wat ons as RET beskou is om die geleenthede aan te gryp om die ekonomie weer met vyf, ses persent en meer te laat groei.Sodanige maatreëls sluit baie in wat die Regering in die verlede as beleid verkondig het, maar nog nooit geïmplementeer het nie."

Mnr Swanepoel sê Radikale Ekonomiese Transformasie of RET moet in die onmiddellike toekoms stappe insluit om die herindiensneming van duisende laaggeskoolde werkers weer in die vervaardigingsektor en elders in diens gestel te kry. Hy sê sodanige werkers kan nie hulle vaardighede verbeter of hulle gesinne voed as hulle nie werk nie. Maar dit sal beteken dat sowel die Regering as Arbeid hulle houding jeens arbeidswetgewing heroorweeg.

"As ons groei wil bevorder, moet ons ons mense weer aan die werk kry. Die enigste volhoubare manier om dit te doen, is om ons maatskappye weer aan die groei te kry. Maatskappye neem nie mense op die ingewing in dien nie. Hulle doen dit oor groei hulle dwing,"sê Mnr. Swanepoel.

Die Uitvoerende Hoof, Ernest Messina, sê toeganklike en voldoende breëband vir almal is ononderhandelbaar. "Dis al jare op die spyskaart, maar is steeds nie deurgevoer nie. Oud-President Thabo Mbeki het destyds die land verbind tot die sogenaamde Inligtingsupersnelweg, maar ons is steeds in die fietslaan vasgeval. Moderne ekonomieë kan nie oorleef sonder 'n reuse datastroom waartoe al ons burgers toegang het nie."

Die AHI sou ook graag wou sien dat die Regering hom herverbind tot oop, mededingende markte. In ruil daarvoor, sê Mnr. Swanepoel, sal die sakesektor hom ook moet herverbind.

"Die afgelope jare het die sake-ondernemings die beleggingskrane toegedraai namate onsekerheid en wantroue toegeneem het. Dít sal omgeswaai moet word as ons weer wil floreer. Baie ondernemings sit op kontant wat dringend weer deur die ekonomie moet begin sirkuleer. Hulle sal die voorbeeld van groot spelers soos Steinhoff en Checkers moet begin volg en besef dat dat die hele wêreld hulle potensiële mark is. Dan sal hulle begin werk skep. As elke KMO in die land volgende maand twee nuwe werksgeleenthede skep, skep ons onmiddellik werk vir twee-miljoen jong Suid-Afrikaners.

Bernard Swanepoel sê dis regtig 'n kwessie van: "Skoenmaker hou jou by jou lees." Sakemense is nie politici nie, politici is insgelyks nie sakelui nie. "Drakoniese staatsintervensie werk nie. Ons het dit al gesien en ons moet leer van die uiters swak prestasie van staatsondernemings soos SAA, Eskom, Transnet en die SABC. Daardie tipe inmenging is bloot 'n resep vir korrupsie en mislukking.

"As ons egter ons leiers kan oortuig dat die sakesektor in al sy manifestasies gereed en gewillig is om met hulle hande te vat, dat ons gereed en gewillig is om die ekonomie weer te laat sing, kan osn 'n reuse verskil maak. Maar dan moet die vertroue tussen die Regering en die sakesektor dringend herstel word. Die Regering moet in alle erns nou ons hande losmaak."

AHI Turns 75. Let's Celebrate With Economic Growt...
Top challenges and trends in the SA SME economy

Comments

 
No comments made yet. Be the first to submit a comment
Already Registered? Login Here
Guest
Saturday, 27 May 2017

Become part of the AHI